Om op Rhebusfontein te woon

In my wildste drome het ek dit nooit kon dink nie: Dat ek eendag op Rhebusfontein sal woon nie.

“Maaar woon jy dan nie meer op Bredasdorp nie?”

Natuurlik woon ek nog hier – en sommer op Struisbaai ook. Ek woeker hier en ek werk. Ek jaag rond van bakboord na stuurboord. Ek moet kos maak en veral tonne en tonne wasgoed was. Ek moet bel en reëlings tref en organise, en veral geld betaal – baie baie: huishulpe, munisipaliteit, karre, huise, petrol, instandhouding, kos, goeters.

Maar ek woon ook op Rhebusfontein. Hier sit ek op my pragtige stoepie en kyk na die oorvloed lieflike blommetjies , met ‘n glasie frangelico en ‘n pragtige bordjie met Toortsie se tiramiso. Ek drink tee uit blommetjieskoppies en eet Lorenzo se heerlike soetkoekies. Ek lag en gesels en gooi wye verbeeldingsdraaie met my bure.

My Rhebusfontein bure is almal pragtig en dierbaar, en ek moet bieg ook die snaakste klompie vriendinne bymekaar. Ons lag ons gereeld slap vir mekaar se manewales. Soms kry ons bevliegings en gaan kruip in grotte en tonnels rond en los moordraaisels op. Soms spring ons op ‘n giggelgroen bus en toer die land vol. Ons het eenkeer amper in ‘n sirkus deelgeneem, en ek praat nou nie eers van daardie perfekte misdaad wat ons so ‘n ruk gelede gepleeg het en hoe ons die polisie ontduik het nie. Dis juis agv daardie skreeusnaakse avontuur dat dat ons die naam: Towerinne gekry het. Nee, ons toor nie, maar ons het mos Towerkop se raaisels opgelos – dus Towerinne.

Ag, en as julle nou dink ek het die kluts heeltemal kwytgeraak – elke liewe woord is waar. Regtig! Sowaar as padda manel dra! Ons het daai goud en diamante gekry en in tannie Frannie se broodjie versteek, en ek dink oom Paul was nogal bly dat sy miljoene uiteindelik gevind is. Daarna hét ons gaan toer, op pad vir die pragtige Lorenzo raakgeloop (ag en ook die nuuskierige minder-pragtige Broodina), en uiteindelik hier op Rhebusfontein nesgeskop. Ons het al ‘n dinee gehad vir ‘n paar mense ( sien onder) en selfs internasionale aandag daarmee getrek.

Lees gerus hier oor ons dinee en ook oor Rhebusfontein en sy spesiale inwoners:

https://sevencircumstances.com/2019/09/29/what-is-it-about-rebusfontein-and-the-king-louis-viii/

Ons het ook hard geoefen aan ons sirkusdansie, pragtige woordsnoere gemaak en uiteindelik Eden se biblioteek se geheim opgelos – altans ek dink so. Ons sit nog lekker en gesels daaroor

Maar die lewe gaan aan, en een van die dae is die Novemberskryf’nroman verby en dan lê Kersfees mos voor – en ook waarskynlik ons volgende avontuur, want op Rhebusfontein is dit nooit te lank stil nie . Die koek, tee en frangelico is lekker, maar as jy weer sien, kom die volgende avontuur hier aangehuppel.

En wat kan ons doen?

Ons lag!

En ons gryp daardie nuwe avontuur en dans met hom, al die pad die toekoms in.

towerin huisie

towerin huisie

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in blogspeletjie, blogspeletjie diegroen giggelbus, blogspeletjie:towerbus,, rhebusfontein and tagged , , , . Bookmark the permalink.

47 Responses to Om op Rhebusfontein te woon

  1. Oe mooi, verlang nou na huisie nommer 17, moet oppak en gaan kuier.

  2. Seegoggie, ek verlang nou so na Rebusfontein se rustigheid ek gaan opslag my tas pak en soontoe gaan. Sien jou daar!

  3. Jy gee my sommer moed vir ‘n baie moeilike Woensdag met jou puik opsomming van ons avonture! As die werklike lewe mens in sy kloue gryp en skud, kan mens altyd Rebusfontein toe vlug… Ek is so bly dat ek jou in lewende lywe kon ontmoet – daardie dag aan die suidpunt van Afrika was wonderlik ❤

  4. Psst, my glasie frangelico is leeg, Skink nog so druppel Seegogga. 🧚‍♀️🧚‍♂️😉

  5. Toortsie sê:

    Ou liefste Seegogga, jy skryf so lekker en ja, ek kan alles beaam wat jy geskryf het. Dit is alles waar. Heeltemal waar. En ons tweetjies is mos darem regtig nie in ons dorp bekend as mense wat jok nie, of hoe?
    Solank jy nou lekker rus daar in Rhebusfontein, kan jy mos iets uitdink wat ons in die nuwe jaar kan doen. ‘n Lekker Towerinavontuur. 😁

  6. woordnoot sê:

    O Seegogga…..ek is oppad. Ek bring n Frangelico saam.Ek het daai rusplek nodiger as wat die aarde reën nodig het……

  7. seegogga sê:

    O, Woordnoot, Lorenzo hhet jou tuin so mooi versorg. Dis net blommetjies waar jy kyk! Ons wag vir jouu hier op my stoepie.

  8. Kameel sê:

    Lyk my ons almal verlang na Rebusfontein. Vir Woordnoot gesê ek ry saam. Ek verlang na my kat, na Lorenzo…. wil hom ‘n stywe druk gaan gee. Haal asem, hy voel vir my soos een van my seuns. Wil saam met die Towerinne sit en lag.

  9. Si wat ‘n lekker beskrywing gee jy van ons denkbeeldige wêreld! Knap gedaan en gee aan daardie koekies en Frangelico.

  10. Ek glimlag nou sommer weer breed. Soms vergeet ek dat Rebusfontein net so ‘n hanetreetjie van enige Towerin af is. Pak jou tas, draai in die rondte en jy’s daar.

  11. Mooi saamgevat Seegogga, so loop ons saam met jou op towerinspore en sonder dat ons wou, word ons glimlagte breed en word daar sommer van welbehae gesug. Ek bring rooiwyn saam Rebusfontein roep.

Laat 'n boodskap na Bondelsgedagtes Kanselleer antwoord

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s