Krater 8: Ons, die dominee en die kombuisvloer

Eendag,  so 22 jaar gelede, het ons Bredasdorp toe getrek en ‘n mooi ou huis hier gekoop.

Die gaar novilon in die kombuis moes vervang word- met teëls, het ons in ons wysheid gedink, want my man se werk het juis toe ook geteël en daar was baie ” sample” teels wat in boksies daar rondgele het, en wat die werk gese het hy maar mag kry. Boonop was ‘n sekere wit teel toe op “special”. 

Die kassies sou ingesit word deur ons plaaslike dominee wat houtwerk gedoen het in sy spaartyd.

Nadat ons kwotasies van teëlers gekry het, het ons maar op die DO IT YOURSELF opsie besluit.

Die dag het ons die kindertjies( toe 6, 4 en 1 jaar oud) by my ma gelos  en met teelsnyers en goeters het ons 8vm die kombuis aangedurf. Ek wou driehoekies van die “sample” teels sny- of so -nie ‘n prentjie. Die prentjie (van ons gesinnetjie-ek, hy, die 3 dogtertjies, die kat en die hond) het gewen en ek en my man het begin teels sny. Ons het nie heeltemal geweet waarvoor ons ons ingelaat het nie, want daardie prentjie was eers half een die nag klaar gesny. Teen daardie tyd het ons albei bloeiende hande gehad, maar ons was jonk en vol energie. Ons kon nooit nou gaan slaap nie, ons moes nou die vloer teël om te kyk hoe dit lyk!!!

Ons werk toe verder en teel die vloer so driekwart tot so half 6 die volgende oggend -maar die prentjie is in! Moeg en gelukkig besluit ons om te gaan slaap. Daar was egter ‘n klein probleempie- die dominee sou so 8vm kom om sy kassies verder klaar te maak. Haastig skryf ek vir hom ‘n briefie wat ek op die deur plak, en ons gaan slaap.

Dis eers laat die volgende dag, na  ons wakker geword het en ek die briefie weer van die deur afgehaal het, dat die moontlike dubbele betekenis my getref het.

Op die briefie het ek geskryf:” Dominee, kom asb. later weer. Ek en Gert het dwarsdeur die nag geteel en nou gaan ons slaap.”

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Die Overberg: my wereld., kraters en ander skandes (humor). Bookmark the permalink.

11 Responses to Krater 8: Ons, die dominee en die kombuisvloer

  1. MaanKind sê:

    Maar dis mos verskriklik kreatief!

  2. Ons dominees is mos gewoond aan mense wat deur die nag teel! Ons doop dan gereeld…

    ‘n Hele klomp jaar terug was ek op Bredasdorp se kortlys vir ‘n beroep, en daar vir ‘n onderhoud… Ek sou dit so geniet het as julle my toe beroep het, dat ek daai dominee van Bredasdorp kon wees… Ek bgei ook so mooi soos baie daag by julle!

    Die omgewing daar by julle is vir my baie mooi, en ek en my getroue ysterperd, ou Huisbesoek, was al twee keer daar verby Kaap Augulhas toe.

  3. seegogga sê:

    Agulhas is wonderlik. Ek het ‘n huisie daar, Rus ‘n Bietjie, as jy weer kom en dalk verblyf soek. Maar dis regte Agulhas verblyf, hoor!

  4. Skoor sê:

    Vrek, dis flippen ougat! Maak nog en verkoop dit – jy kan geld maak!!!

    • seegogga sê:

      Dankie. Skoor maar daardie donkerblou en bruin vloerteels was so hard soos klip! Ons hande het GEBLOEI, se ek jou! Ek weet nou ook oekom teelers so baie vra vir die werk!

  5. toortsie sê:

    Wel, die dominee het hom nie doodgeskrik nie, want as ek nou reg verstaan is hy nog altyd daar. Hy sou die briefie darem vreeslik geniet het!
    Fantastiese vloer! ek sal MOET kom kyk!

  6. aj vosse sê:

    Mmmm… die geteelery moet ent kry!
    Net so btw… jully het ‘n grand job gedoen! Bestaan daai “Pierneef” nog? Ek hoop so! 😉

    • seegogga sê:

      ja, hy besttan nog. Dis net jammer die wit teels rondom het nou al so baie chip merke op. Die teels was miskien nie sterk genoeg vir ‘n kombuisvloer met so ‘n lompe persoon soos ek wat alles laat val nie.