
Eendag, lank, lank gelede,(seker so 1500 jaar gelede) , was daar ‘n baie slim wiskundige met die naam van Sissa. Die koning van Indië was baie verveeld en hy gee toe vir Sissa ‘n baie moeilike opdrag. “Ek soek ‘n slim speletjiie wat my sal besig hou en sal laat dink en wat my nie sal verveel nie. Dit moet ‘n speletjie wees wat waardig is vir ‘n koning om te speel.”
Sissa het gaan dink en dink. Op ‘n dag kom hy by die koning aan met ‘n bord met swart en wit blokkies op geverf en ‘n klomp uitgekerfde figuurtjies.
“Hierdie is ‘n oorlogspeletjie,” sê Sissa. “Hierdie figuurtjies verteenwoordig 2 spanne of lande: Die ligte span en die donker span. Elke span (land) het ‘n koning en ‘n koningin. Die doel van die speletjie is vir die een span om die ander span se koning vas te trek sodat hy nie kan beweeg nie.
Om die konings te help, het hulle ‘n klomp voetsoldate, die pionne. Verder is daar die kasteel of toring van die koning; daar is die ridders – dit is die soldate op perde; en die kerk – die biskoppe. Elkeen van hierdie figure het hulle eie manier waarop hulle op die bord mag rondskuif. Die Koningin is die magtigste en sy kan net sover as wat sy wil beweeg, dwars, regop, of skuins. Almal moet saamwerk om die koning te beskerm, maar ook om die ander land se koning aan te val totdat hy so vasgekeer is dat hy nie kan beweeg nie.”
Die koning was baie tevrede met hierdie nuwe speletjie en het dit vir sy vriende gewys. En so het die speletjie later in Persië beland.
Die speletjie is in die begin Chaturanga genoem, maar ‘n Persiese koning word ‘n shah genoem en later het die mense almal Shah geroep as die koning van ‘n span in gevaar gesit is. Hulle het ook “Shah mat” gesê as die koning vasgekeer is. So het die speletjie se naam later Skaak geword.
Dwarsdeur die wêreld het die konings en die wyse manne die wonderlike speletjie begin speel en so 150 jaar gelede, meer as ‘n duisend jaar nadat skaak die eerste keer gespeel is, het die wêreld die heel eerste skaaktoernooi gehou. Die slimstes en beste skaakspelers het teen mekaar meegeding.
Vandag nog word daar gereeld groot skaaktoernooie gehou, en die verskillende lande stuur hulle heel slimste spelers om te kyk of hulle kan wen en vandag nog word dit die speletjie van konings genoem.
En het julle geweet dat skaak ‘n mens slimmer maak? In skaak gebruik ‘n mens jou linker- sowel as jou regter brein , en jy moet dink en redeneer en beplan. Daar is bevind dat kinders slimmer word, selfs al het hulle nog net 4 maande lank skaaklesse gehad.
Maar wat het gebeur met die wyse man wat skaak uitgevind het?
Die koning was baie tevrede met hom en het vir hom gesê dat hy enige beloning kan kies wat darem prakties moontlik is.
Sissa was ‘n baie slim man. Hy vra toe vir die koning om vir hom koring te gee. Die koring moet soos volg uitgewerk word: Op die eerste blokkie van die skaakbord, moet die koning een koringkorreltjie neersit, en dan moet hy op die volgende blokkie dubbeld die koringkorreltjies neersit en op die volgende blokkie weer dubbeld as wat op vorige blokkie is, en so voorts. Met ander woorde blokkie 1 het 1 koringkorrel. blokkie 2 het dan mos 2 koringkorrels. Blokkie 3 het mos dubbeld die getal van blokkie 2. Dis mos 4, né? . Blokkie 4 het dus nou weer dubbeld 4, en dit is 8 korinkorreltjies en so aan tot by die laaste blokkie.
Die koning het lekker gelag. Dit was mos nou sommer baie goedkoop om vir Sissa te betaal!
Maar die koning het nie sy somme gemaak nie! Julle groter kinders kan dit dalk met julle sakrekenaars probeer uitwerk. Daar is 64 blokkies op ‘n skaakbord.
As ‘n mens so aanhou, het jy by die laaste blokkie meer koring as wat in die koning se hele land was!
So kon die koning dit nooit regkry om vir Sissa genoeg te betaal nie.
Hierdie beginsel waarvolgens Sissa die koringkorreltjies uitgewerk het, word vandag nog in Wiskunde gebruik, en staan bekend as die koring-en-skaakbord probleem.
En vandag nog speel die slim mense van die wêreld Skaak, die speletjie van konings.


Baie interessant!
LikeLike
Seegogga, hierdie storie van jou gaan definitief met my kleinkinders gedeel word!👏
LikeLiked by 1 person
Dankie Una.’ n Vriendin van my het presies dieselfde gesê behalwe dat sy dit in Engels vertaal het vir haar Engelse kleinkinders.
LikeLike
Dankie vir almal se kommentaar. Stuur vir julle kleinkinders!
LikeLike
Ek het jou skaak-storie lank terug gelees, en wou dit met iemand deel, maar ek kon dit glad nie weer opspoor nie. Ek is so bly ek het dit nou weer gekry! So oulike storie, dankie!
LikeLike
Ek is so bly jy hou daarvan. Deel gerus soveel jy wil.
LikeLike
Daar is al heelwat navorsing gedoen oor die voordele van skaakspeel (vir kinders). Daar was ‘n van Zyl vrou in SA – lank gelede (dink dit was vroe-e 90’s) wat bewys het hoe kinders se wiskunde punte verbeter het – ek dink ek het nog haar koerant artikel – wat in Beeld verskyn het – iewers (en ek dink ek het haar op my blog ook eendag genoem). Op die bladsy oor skaak en die voordele (op my blog) kan jy baie links kry met tonne informasie oor al die voordele. Ek het ‘n google search gedoen met die van Zyl vrou se navorsing en ‘n PDF gekry met haar naam/verwysing – en dit is wat daarin staan: Van Zyle, A.S.A.J. (1991). The significance of playing chess in improving a child’s intellectual
actualisation. Unpublished doctoral dissertation, University of Pretoria, South Africa. Die probleem wat ek gevind het (toe ek skaak afgerig het (14 jaar), dat sommige ouers hoor dis goed vir konsentrasie en dan dink hulle dis ‘n resep om dit 1,2,3 op te los en dit doen nie. Jy moet dit baie lank speel voordat daar ‘n verbetering is en gewoonlik kan daardie kinders (wat sukkel met konsentrasie) nie baie lank aanhou speel nie, want skaak verg diep konsentrasie. Dit was lekker om jou inskrywing te lees!
LikeLike
baie dankie vir die info. Ja, ek glo dat almal nie so diep kan konsentreer nie en belangstelling gaan verloor
LikeLike