Kuns-kookklas op Rebusfontein

Ons is ñ groep vroue, bloggers, en tussen ons klompie het ñ dorp ontstaan, Rebusfontein. Iewers in Suid-Afrika. Iewers in ons lieflike land.
Hierdie hoofstuk sluit by ñ menigte voriges aan. Jy sal dalk frons, jy sal dalk wonder. Ja, Rebus bestaan. Vir ons, en dalk vir jou.
Rebus is ons wegloop-plek, en soms ons wegkruipplek. Maar feite is, Rebus is ONS s’n.
As jy ooit lus is om deel te word, om deel te neem, sê net, en jou droom sal bewaarheid word.

Volg hierdie skakel om by die Inlinks te kom waar al die stories in die regte volgorde verskyn: https://fresh.inlinkz.com/p/e510564f63d7492b9d9a4654518443af

Gaan soek ook by die link as julle meer van hierdie betrokke bloggers se werke wil lees!

So pak ek toe mos my karretjie. Ek gaan Rebus toe! Ek gaan op my stoepie van my Rebushuisie kuier en net lekker goed doen: musiek luister, skilder, gesels met my hartsviendinne, ontspan, lag, rus…. weg van al die werk, probleme en Corona af- salig!

By Rebusfontein gekom, pak ek lustig af .

Waar is almal? Lyk my ek is eerste hier. Sjoe, ek het nie geweet ek het so baie goed nie- vrugtekoek, frangeliko, tee, kwaste, lino, en verf- dis net botteltjies en blikke en blikke.

Soos ‘n wafferse akrobaat balanseer ek die een verfblik  op die ander en die boonste blikkie druk ek so met my ken vas om versigtig die 2 trappies na my stoepie op te klim.

Net toe is daar n onaardse lawaai en iets stamp my dat ek daar trek- ek eenkant toe en die verfblikke anderkant toe .  Dis ‘n hele swetterjoel hondjies en katte,  ‘n lemur, ‘n klein seekoeitjie en wat nog en wat nog wat mekaar rondjaag en my uit die aarde gehardloop het. Ek sit plat op my sitvlak , verfspatsels op my klere en gesig,  maar voor my staan die vreemdste gedierte – pienk, blou  rooi en geel. Dis Blommetjiie, Kameel se koei wat , net so niksvermoedend soos ek, vreedsaam net langs my stoepie staan en wei het en nou ‘n instant make-over gekry het.

Blommie gee n bulk en tol in die rondte, hol skoon bo-oor my stoep, gly op die nat verf wat besluit het om ook die stoep te  versier, en land  summier  op haar maag. Dit was tegelyk verskriklik en ook verskriklik snaaks.

Daar rol Blommie en ek rond- ek op die gras en sy op die verf en ons lê (letterlik) soos ons lag. Dis toe ek die tuinslang gryp om haar af te spuit, dat ek die mooi kleurvolle patrone sien.

Waarom nie?

Ek gryp die kwassies om hier en daar ,’n bietjie definisie te gee. Blommie is ewe beïndruk  en staan mooi stil. Toe ek klaar is, help sy my weer om my stoep te verf- bont en lekker met sulke koeispoor patrone op.

Een vir een kom sê die blogmaats hallo. Toorts kom aan met n rooi kok-kêpsie, ‘n paar houtlepels, ‘n pot of twee en ‘n groot bottel room.. Frannie bring sowaar ‘n sneeuman wat sy op koeltekolletjie op die stoep staanmaak. Sy het ook mandjie met heerlike broodjies en ‘n bottel wyn..

Hier kom Appeltjie- nie met appels ne, maar vetplantjies- bont en mooi. Aalsie kom sing-sing aangewals- sy was beslis nie in daardie rehabilitasietent toe dit nog ‘n reabilitasietent was nie! Sy en Una het albei ook n bottel wyn onder die arm. Maar kyk net Una se outfit! Ek bedoel kleertjies – (of gebrek daaraan). Sy het darem haar pienk lilo wat sy as bedekking kan gebruik….

” Kom nader, kom nader! Dis so lekker om julle weer te sien!” Ek moet net keer of hulle bevoel die patrone op Blommetjie se skof. Woordnoot en Positief bring n lang ding wat baie na vuvuzela lyk- ‘n outydse gehoorstuk, spog hulle – “om beter te hoor, my kind. Hiermee kan ‘n mens die stilte hoor fluister!”

  Trommetjies kom “tjie- tjie” aangeloop met iemand wat ek glad nie ken nie. “Hierdie is nou San”, stel sy haar bekend. Sy glimkag breed en maak haar dadelik tuis.

Net toe hoor ons n onaardse gedreun- ‘n jet! Nee, ‘n vuurpyl! Met n swierige boog vlieg hy verby en toe pop daar ‘n paar valskerms ook. Saggies daal hy af aande toe. Scrapy vee haar haartjies netjies terug en klim soos n statige dame uit- net om ook deur al die diere ondersterstebo gehardloop te word. Hulle is so bly om haar te sien. Gelukkig het sy geen verfblikke by haar nie.

“Kom sit maats, ek bring tee en vrugtekoek,” se ek dapper, maar Aalsie en Una sit elkeen ‘n bottel wyn en glasies neer. Frannie haal sjarmant ‘n botteltjie Franjeliko uit.

“Nee, nee dames”, roep Virgo-C van ver af. ‘Drink nou eers julle vitamines! En waaaar is julle maskers?”

Die arme vrou werk so hard, sy het skoon vergeet dat Corona Mona mos verwyder is deur die Towerinne. Hier is nie eers een Covid kiemietjie op Rebusfontein nie.

Toe sien ons hoe Christa, laptop onder die arm, aangestryk kom. Sy het gou eers erens ‘n lesing gaan gee.

“Baie welkom aan almal hier! The more the merrier!’

“Hoe meer siele hoe meer vreugde” se Christa en Frannie gelyk.

“Ons gaan n kookklas he!”Toortsie.

” En ek sien so uit, want ek wat Seegogga is, hou van bie knibbel!” se ek. Dadelik is almal honger.

Net toe kom die tjerrie op die koek -die pragtige Sonel met haar rooi lippies en ‘n boek wat sy self geskryf het!

“En ons gaan skryf” Sonel.

“En ‘n kalender maak!” Una.

“En rus!”

“En pret he!”

“En wyn drink”

“Of Franjeliko!”

“En tee met vrugtekoek!”

“En avonture!”

“En party”

Die goue vroue is weer tuis,

elkeen weer in sy Rebushuis!

Die son skyn

die swaar verdwyn

en ons hoor weer  die vrede suis.

(Net vir ingeval julle wonder: Ek het hier aan my linkerkant die stoep vergroot om plek te maak vir lekker kuier op die stoep, naby die dam voor Seegogga se Rebushuisie.. Maar ek het nog nie ‘n prentjie nie – sal later opsit).

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Ongekategoriseerd. Bookmark the permalink.

12 Responses to Kuns-kookklas op Rebusfontein

  1. Hmmm, daar word lekker gekuier op Rebus.

  2. unasegedagtes sê:

    So dis hoekom jy Blommetjie geverf het, nou maak alles sin. Dis heerlik op jou stoep, Seegogga, en kyk nou net hoe vergader die vroue een-een. Scrapy, jy het geland!

  3. Letty-Ann sê:

    Sjoe,Seegogga!Wat “n vrolike deurmekaarspulletjie.Ek sien jou fyn humor duidelik raak.Mooi geskryf.

  4. Kameel sê:

    Nou verstaan ek hoekom Blommetjie ‘n nuwe look gekry het. Ek sien die hele petalje voor my afspeel 😁😁😁😁

  5. Aarde land, tipies die Rebus goue vroue. Hier word gekuier en hier is vrede. Salige tye op Rebus. Mal oor jou verduideliking, dis hoe onse Blommetjie ń make over gekry het.

  6. Hoe het ek hierdie heerlike storie gemis? So bly ek sien dit nou.

  7. Toortsie sê:

    Jaaaaa! Dis presiessoos dit nog altyd op Rebusfontein was! Lekkerrr!

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s