Lê-Jou-Eier Bloguitdaging: Kaleidoskoop – Hoofstuk 4. Paniek!

Hierdie is ‘n vervolgverhaal deur verskillende bloggers. Om die eerste 3 hoofstukke te lees, klik op die InLinkz skakel hieronder

Om aan hierdie uitdaging deel te neem, lees die reëls by hierdie skakel.

InLinkz skakel: http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=789999

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls(2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22)

 

Die laaste deel van die vorige hoofstuk het so gelui:

Jakkie begin ernstig beduie, en die man met die sagte, mooie oë lag.

Goed Jakkie, kom ons vra haar. Juffrou, kan ons jou ñ geleentheid gee en iewers gaan aflaai, of is Kimberley nie jou eindbestemming nie?

In daardie oomblik weet Nellie dat sy ñ lewensbelangrike besluit moet neem, een wat haar toekoms gaan bepaal.

Bly sy, of gaan sy…

***************************

Esra stap nadenkend na die buitegeboue waar sy ou geroeste bakkie geparkeer is. Vandag kuier Krissie en haar vriendinne om die tennisbaan en kan hy ongesteurd die geld in die kluis gaan bere. Heiden, as iemand hiervan moet uitvind, is dit klaarpraat met hom!

Hy stap stadig om die hoek en registreer nie dadelik wat hy sien nie. Hy gaan uiteindelik staan: Die bakkie is weg! Maar … maar dis mos onmoontlik! Wie sal nou met hierdie ou skedonk wil ry? Sy een wiel is boonop in die laaste tyd so papperig. Esra skud sy kop ongelowig. Niemand sal tog die ding steel hier op die plaas nie, en hy glo nie Krissie sou dit vir een van die volk geleen het nie.

Hy haas hom huis toe en probeer die onrustige gevoel oor die geld  in die toksak  onderdruk.

“Krissie!” roep hy met ‘n bietjie meer angstigheid as wat hy wou, toe hy naderkom.

Krissie staan lui-lui op. Sy hou nie daarvan om gepla te word as haar vriendinne daar kuier nie.

“Wat is dit tog, Esra?” vra sy geïrriteerd.

“Het jy dalk dalk die bakkie vir iemand geleen?” Hy het klaar gesien dat die sleutel ook nie op die hakie hang nie.

“Jy weet mos ek sal nooit so iets doen nie, Estra! Is hy gestamp?”

“Hy is weg, Krissie,  weg!” Esra sukkel om die paniek uit sy stem te hou. Die bakkie is nou een ding, maar daardie geld!

“Hy kan mos g’n weg wees nie, Esra. Nellie! Nellie! Waar sal die kind dan tog wees!”

Esra kan nie help om krapperig toe voel oor Krissie se stemtoon nie. Sy is altyd so hard met die arme Nellie. Toe hy destyds vir sy broer-hulle belowe het om haar mooi groot te maak, het hy nie gedink dit gaan so wees nie. Krissie het nooit tyd of genade vir die ou dogtertjie gehad nie.  Dit was asof sy haar doelbewus wou distansieer. Was sy jaloers omdat sy nie self kinders kon kry nie? Sy het hulle eie aangenome kinders openlik voorgetrek en baiemaal moes hy maar keer en vir Nellie verdedig teen sy vrou se venyn. Dit het ook nie gehelp dat Nellie beter op skool gevaar het as die ander twee nie. Of … het sy dalk snuf in die neus gehad?

Net toe lui die telefoon. Dit is Chris.

“Pa,  waarheen is Nellie oppad?”

“Hoe bedoel jy, Chris?”

“Ek het haar  op die lughawe gesien. Ten minste, ek dink dis sy – en sy het my ou toksak by haar gehad. Ek het geroep,, maar sy was haastig om in haar vliegtuig te klim en sy het my nie gehoor nie. Waarheen is sy, Pa?”

Chris is wel twee jaar jonger as Nellie, maar hy het nog altyd ‘n sagte plekkie in sy hart vir haar gehad.  Sy was sy beste maatjie, en hy het haar van kleinsaf bewonder.

Esra kry ‘n benoudheid in sy bors. Die toksak! Nellie!  Wat moet hy doen? Hy moet onmiddellik haar opspoor. Hy sal haar in sy vertroue moet neem, maar eers moet hy haar kry.  Hy sal die polisie moet bel. Nee! Of dalk  self gaan soek. Maar sy kan enige plek wees!

“Probeer asb uitvind waarheen haar viegtuig vertrek het, Chris. Ons moet haar gaan soek, ou seun”.

Esra voel hoe ‘n groot moegheid hom oorval. Hy tel die gehoorstuk weer op. Hy wens hy het Nellie se selfoon nommer gehad, maar van die uitheemse goed wou hy nooit weet nie.

Die pyn in sy bors word skerper, Met sy regterhand trek hy ‘n stuk papier nader. Dis verby, weet hy. Nog geld het hy nie. Sal hy maar bieg en sy testament verander? Of sal hy die hospitaal bel?

 

 

 

About seegogga

Soos 'n krappie op die strand, trap ek spoortjies in die sand. Dalk sien jy iets, dalk niets. Wie sal raai hoe die wind gaan waai?
This entry was posted in Ongekategoriseerd. Bookmark the permalink.

56 Responses to Lê-Jou-Eier Bloguitdaging: Kaleidoskoop – Hoofstuk 4. Paniek!

  1. Heita – plot twist!!! JO! Dit was nou die wag werd. Welgedaan! Ek wens ek het meer as een keer my naam opgesit. Dankie Seegogga, nou yk die geld in Nellie se hande soos ‘n geskenk.

  2. Toortsie sê:

    Skoe Seegogga! Jy KAN!

  3. travel460 sê:

    Jy is ń bo-baas speurverhaal-skrywer! Hierdie storie van ons raak nou ekstra opwindend!!! Ek wil ook weer ń beurt hê…🙈

  4. travel460 sê:

    Frannie, ons wag in spanning om te sien wat die girl gaan aanvang.

  5. Ja, wat gaan die girl aanvang? En wat gaan oom Esra doen? Dit klink my die Viljees is in die moeilikheid. Great stuff Seegogga.

  6. Knap gedaan Seegogga… sjoe ek kan nie wag om die twist te sien nie…

  7. Jy het nou die storie op ‘n heerlike ander draai geneem…uitstekend, Seegogga!

  8. Kameel sê:

    Ek hou hiervan seegogga!!! Jy het die storie nou ‘n lekker draai gegee. Dan weer… ek het nog altyd van jou stories gehou.

  9. Dit is nou ‘n kreatiewe kykie agter die skerms! Baie goed gedoen

  10. Mmm, nou het jy n lekker draai gemaak aan die storie. Baie goed gedoen, daar is n hele paar drade wat jy hier uitgesprei het. Ek is net na Frannie so ek begin solank dink wat om te doen.

  11. Positief sê:

    Ek kan nie wag vir my beurt nie. Sjoe Seegogga, hierdie was puik

  12. aj vosse sê:

    Jy’t nou ‘n lekker kromdraai bygelas!
    Daai geld… hoekom was daai geld in die bakkie weg gesteek.
    Vir wie was daai geld bedoel? Ek wonder… 😉

    • AJ, ek het nou pas jou blog met Nellie se wraak gelees – sjoe, dis ‘n soete wraak wat jy daar uitgeskrywe het! Ek hoop jy skryf in om ‘n hoofstuk in die voortvluugtige Nellie se verhaal ook in te skrywe.

      • aj vosse sê:

        Ek skryf soos ek nou hier sit!
        Ek en Nellie is nou die grootste maatjies! Ek dink ek sal vir die volgende paar Woensdae vertel van Nellie en haar mannewales!
        Sy gaan naam maak vir haarself nou dat sy vryheid geproe het!
        Net so BTW… dankie vir die inloer… dis goed om nog ‘n Saffer vriend te verwelkom! 😉
        (Verskoon asb die tik en taal voute… my geskrewe Afrikaans is vrot!!)

      • Groetnis uit Polokwane, Limpopo. ‘n Sonnige bosveldwintermiddag. Lekker skryf. Foute maak nie saak nie, Afrikaans skryf tel.

  13. woordnoot sê:

    Nou toe nou!!! Wat ‘n ommeswaai! Sjoe, ons wat so laag op die lys is sal wraggies moet uithaal en wys….sal nou al begin vas en bid dat ek hier kan bybly!!! Welgedaan!

    • seegogga sê:

      Ek het net so gestres!( moet vir niemand sê nie, maar dit was vur my makliker om die ander kant vd storie te skryf as om Nellie te laat kies! ) Maar ek hoop darem hier is nou meer goed om uit te kies.

  14. Terug pieng: Blogkaleidoskoop Hoofstuk 10 Die groot besluit – toortsie.com

Lewer kommentaar op seegogga Kanselleer antwoord